News section

Droogte raak kritiek en planttyd loop uit
Bothaville, South Africa
November 29, 2004

“Hoewel daar oor die pas afgelope naweek in sommige van die westelike produksiegebiede reën geval het, was dit te min en nie goed versprei dat boere kan begin plant nie,” sê mnr Bully Botma, voorsitter van Graan Suid-Afrika

In die Noordwes Provinsie het 25 tot 40 mm reën in die omgewing van Schweizer Reneke geval en in hierdie gelokaliseerde gebied sal boere nou hulle primêre grondbewerkings kan doen, maar nog reën is nodig voordat hulle kan begin plant.  Oor die res van die provinsie het dit minder en oor groot dele selfs niks gereën nie.  Die optimum planttyd vir hierdie gebied is vanaf 15 November tot 15 Desember en onder normale toestande lewer die Noordwes Provinsie ongeveer 34% van die totale mielie-oes.  Die optimum planttyd is dus besig om uit te loop en indien daar oor die volgende week nie goeie wydverspreide reën val nie, is dit onwaarskynlik dat die Noordwes Provinsie ‘n normale mielie-oes sal kan lewer.

In die Noordwes-Vrystaat, waar normaalweg ook ongeveer 34% van die totale mielie-oes geproduseer word, het dit oor die afgelope naweek baie wisselvallig gereën. Goeie reën van tussen 10 tot 60 mm is in sommige van die noordelike dele van Bothaville-distrik aangeteken, terwyl ‘n kleiner gebied tussen Hoopstad en Wesselsbron van 10 tot 40 mm reën gehad het.  Die optimum planttyd vir hierdie gebied is bykans verby en tot dusver is na raming nie meer as 5% van die beplande mielie-aanplantings voltooi nie.

In die Oos-Vrystaat is na raming nie meer as 10% van die beplande mielie-aanplantings voltooi nie en dit is tans te droog om enige gewas te plant.  Hierdie gebied lewer normaalweg ongeveer 14% van die totale mielie-oes en al sou dit nou goed reën, is dit hoogs onwaarskynlik dat ‘n normale mielie-opbrengs behaal sal word omdat die optimum planttyd in hierdie gebied reeds verby is.

Die afsnydatum om vir produksiekrediet en insetkosteversekering in hierdie gebied te kwalifiseer, in gevalle waar produsente lang groeiseisoen mieliekultivars wou plant, het reeds op 20 November verstryk. Produsente kan nog slegs vir kort en ultra-kort groeiseisoen kultivars produksiefinansiering en insetkosteversekering kwalifiseer indien hierdie mielies tussen 7 tot 10 Desember 2004 op is. Dit beteken dat produsente in die Oos-Vrystaat nog hierdie week moet kan plant om die vereiste afsnyfatum te haal.

“Teen hierdie agtergrond is dit hoogs onwaarskynlik en bykans onmoontlik dat produsente hulle voorgenome aanplantings van meer as 3 miljoen hektaar mielies betyds geplant sal kry. Die enigste ligpunt op hierdie stadium is die oostelike produksiegebiede waar die beplande gewasaanplantings bykans voltooi is en waar voldoende reën tot dusver geval het,” sê mnr Botma.

News release

Other news from this source

10,624

Back to main news page

The news release or news item on this page is copyright © 2004 by the organization where it originated.
The content of the SeedQuest website is copyright © 1992-2004 by SeedQuest - All rights reserved
Fair Use Notice