South Africa
October 1, 2004
Dit verbaas hom nie dat boere vanjaar meer mielies as verlede
jaar wil plant nie, ondanks sy pleidooie dat hulle minder moet
plant om die prys nie verder te laat tuimel nie.
"Boere het
verlede jaar minder mielies geplant weens die droogte en het nie
'n keuse as om vanjaar meer te plant om te kan oorleef nie," het
mnr. Bully Botma, voorsitter van
Graan Suid-Afrika,
gereageer op die Oesskattingskomitee se bekendmaking van die
eerste voorneme van boere om mielies te plant.
Volgens die komitee se opname wil boere vanjaar 2,854 miljoen
hektaar mielies plant wat 208 000 hektaar (amper 8 %) meer is as
verlede jaar.
Botma het twee weke gelede 'n dringende beroep op boere gedoen
om minstens 412 000 hektaar minder wit mielies te plant as
verlede jaar, maar volgens die komitee se opname beoog boere om
inderdaad 83 100 hektaar méér wit mielies as verlede jaar te
plant.
Graan SA het aanbeveel dat boere 1 100 hektaar meer geel mielies
moet plant. Volgens die opname van die komitee blyk dit dat
boere in hierdie stadium 125 000 hektaar meer geel mielies wil
plant.
Botma het die blaam op die staat gepak vir die dilemma waarin
die land se mielieboere hulle bevind. Hy reken die Regering kom
nie sy plig na deur toe te laat dat hoogs gesubsidieerde mielies
steeds ingevoer word.
Verlede jaar is 808 000 ton mielies ingevoer, waarvan 274 000
ton wit en 534 000 ton geel mielies was. Dié groot invoer was
deels daarvoor verantwoordelik dat 2,624 miljoen ton mielies
vanjaar in Mei na die nuwe seisoen oorgedra is, waarvan 2,123
miljoen ton wit en 501 000 ton geel mielies was. In die eerste
drie maande van vanjaar is reeds 86 000 ton geel mielies
ingevoer.
Botma het gesê dat daar weer vanjaar te veel mielies in die land
gaan wees, terwyl die Regering nie sy plig nakom om die
plaaslike bedryf teen die goedkoop gesubsidieerde ingevoerde
produkte te beskerm nie. Dit veroorsaak lae pryse en nog
duisende mense wat hul werk gaan verloor as gevolg daarvan gaan
verloor.
Volgens die komitee se finale skatting beloop die mielie-oes vir
2003/04 wat op 30 April ten einde geloop het, 8 706 250 ton. Dit
is 227 400 ton meer as die vorige skatting 'n maand gelede. Die
oes is saamgestel uit 5 346 150 ton wit en 3 360 100 ton geel
mielies.
Graan SA beraam die totale kommersiële vraag vir mielies op 5
435 000 ton, terwyl die voorraad wat nodig is om in die eerste
45 dae van die nuwe seisoen te voorsien, 550 000 ton is. Daar is
dus 5 985 000 ton mielies vir verbruik nodig, wat beteken dat
die oordrag na die bemarkingseisoen van 2005/06 1 721 250 ton
kan beloop.
Die Oesskattingskomitee se tweede skatting vir die koringoes
beloop 2 050 300 ton — net effens hoër as die vorige skatting 'n
maand gelede van 2 029 650 ton.
Jan
Cilliers,
Landbouweekblad
|