South Africa
September 13, 2004
Volgens berekeninge deur
Graan SA bestaan 'n produksieruimte vir die komende
produksieseisoen (2004/05) vir sorghum vir slegs ongeveer 87 000
hektaar. Dit is 'n drastiese afskaling van die vorige
aanbeveling (17 Junie 2004) vir 93 000 hektaar.
Die sewende oesskatting (Augustus 2004) dui daarop dat 'n oes
van 317 000 ton verwag word. Volgens die Julie 2004
SAGIS-syfer, is 346 000 ton sorghum egter reeds gelewer, dit wil
sê ongeveer 9% meer as die oesskatting.
Volgens 'n langtermyn gemiddeld, is die binnelandse vraag vir
sorghum ongeveer 251 000 ton. Uit die nuutste Graan SA vraag-
en aanbodontleding vir sorghum, blyk dit dat 'n oordragvoorraad
van ongeveer 65 000 ton bo die pyplynbehoefte kan realiseer.
Indien die voorsiene surplus teen die binnelandse vraag van 251
000 ton verreken word, word voorsien dat 'n markruimte vir die
komende seisoen van slegs ongeveer 186 000 ton bestaan. Teen 'n
langtermyn gemiddelde opbrengs van 2,14 ton/hektaar, is daar dus
'n produksieruimte vir slegs 87 000 hektaar. Volgens SAGIS, was
daar teen einde Julie 2004 reeds 41 000 ton bittersorghum
gelewer wat daarop dui dat daar voldoende bittersorghum as
surplus na die nuwe seisoen oorgedra kan word. Daar is dus geen
markruimte vir aanplantings van bittersorghum in die komende
seisoen nie. Graan SA beveel aan dat sorghumproduksie met 27%
van aanplantings in die vorige seisoen, afgeskaal word en dat
geen bittersorghum sonder 'n kontrak aangeplant word nie.
Produsente word gemaan om kennis te neem van hierdie realiteite
wanneer sorghumaanplantings vir die komende seisoen beplan
word. Terugvoer uit die handel dui daarop dat geen
voorseisoenkontrakte tans deur kopers aan produsente gebied word
nie.
Produsente word ook aangemoedig om in hul produksiebeplanning te
verseker dat slegs sorghumkultivars wat wel aan die
sorghumbedryf se minimum kwaliteitsvereistes voldoen, aangeplant
word. Die LNR-IGG se kultivarevaluasie- en
kwaliteitmoniteringsprogram maak voorsiening vir die evaluering
en plasing van sorghumkultivars in die GM- en GH-klasse. Die
diastase-waardes, wat van groot belang is in die brouproses van
sorghumbier, word gebruik om kultivars in die verskillende
klasse te plaas. Produsente wie kultivars aanplant wat nie aan
hierdie kwaliteitsvereistes voldoen nie, doen dit op eie
risiko. Navrae oor die nuutste kultivarevaluasieverslae kan
gerig word aan die LNR-IGG te Potchefstroom. |