News section

Boere kan uitsien na supermielies
Bothaville, South Africa
March 14, 2005

Mielieboere kan uitsien na twee nuwe geelmielievariante wat opbrengste per hektaar sal verhoog en droogte en hitte die hoof kan bied.

Die twee basters, wat deur Afgri ontwikkel is, is hitte- en droogtebestand en kan teen 'n hoër plantdigtheid aangeplant word. Dit is suksesvol in die oostelike graangebiede met 'n hoër reënval en die droër westelike gebiede.

Volgens dr. Chris Laubscher, bestuurder van Afgri Saad, is die sade in die gewone en geneties gemanipuleerde (GM) vorm beskikbaar. Die GM-variant, waarby 'n Bt-geen gevoeg word, maak mielies meer droogtebestand en bied beskerming teen wurms.

Die twee nuwe geelmieliebasters, AFG4410 en AFG4520, is suksesvol deur die Landbounavorsingsraad (LNR) getoets. Groot mielieboere in die oostelike groeigebiede het die nuwe saad reeds in die afgelope seisoen geplant, en die vertoning daarvan het heelwat nuwe bestellings gewek.

'n Nuwe witmieliebaster ondergaan tans finale toetse deur die LNR, en behoort binne 12 maande beskikbaar te wees. Volgens Laubscher is dit 'n vrugbare, kort baster wat veelvuldige koppe per plant lewer en veral gepas is vir die oostelike groeistreke.

Suid-Afrika se produktiwiteit - sowat 35 000 plante per ha in die oostelike groeigebiede en 16 000 tot 22 000 in die weste - is egter steeds swakker as dié in die VSA, waar sowat 70 000 plante per ha behaal word.

Volgens Afgri is dit 'n aanduiding dat tegnologie hier vir verdere verbeteringe kan sorg.

Volgens Laubscher kos dit gemiddeld tussen R2 en R3 miljoen om 'n nuwe saadvariant te ontwikkel.

Graan SA news release

Other news from this source

11,649

Back to main news page

The news release or news item on this page is copyright © 2005 by the organization where it originated.
The content of the SeedQuest website is copyright © 1992-2005 by SeedQuest - All rights reserved
Fair Use Notice