Bothaville, South Africa
November 17, 2005
Mnr. Hennie Venter, Voorsitter van die
Graan SA
Grondbonewerkgroep, en mnr. Jan du Preez, Voorsitter van die SA
Grondboneforum, het gesamentlik bekend gemaak dat ‘n gids vir
goeie landboupraktyke vir grondboonprodusente bekend gestel is.
“Die gids is die produk van ‘n Taakspan van die Grondboneforum,
en volg op nuwe wetgewing in die Europese Unie en Suid-Afrika
wat die toepassing van goeie landboupraktyke noodsaak om aan die
vereistes van voedselveiligheid te voldoen. Die wetgewing in
die Europese Unie word vanaf 1 Januarie 2006 toegepas.”, aldus
mnr. Du Preez.
Mnr. Venter het gesê dat die gids ten doel het om produsente te
steun om aan die vereistes van plaaslike en internasionale
voedselveiligheidsvereistes te voldoen. Die gids toon prakties
aan hoe daar aan die minimum vereistes vir goeie landboupraktyke
voldoen moet word, met voorbeelde van rekordhouding. “Die
grootste uitdaging aan produsente sal wees om stappe te neem om
rekordhouding van produksieprosesse vir grondbone op te skerp”,
sê mnr. Venter.
Riglyne vir toelaatbare vlakke vir chemiese residue op grondbone
bestem vir uitvoere, is ook aan die bedryf beskikbaar. Hierdie
data is saamgestel deur die SA Grondboneforum se Tegniese
Werkgroep, in oorleg met rolspelers in die bedryf.
Grondboonprodusente word aangemoedig om ag te slaan op die
toelaatbare vlakke vir chemiese residue. Aanduidings is dat
beheermaatreëls in 2006 streng deur die Europese Unie en Japan
toegepas sal word en indien produkte nie aan minimum vereistes
voldoen nie, invoere van Suid-Afrikaanse grondbone selfs verbied
kan word. Produsente word versoek om by die wagperiode en dosis
op die etiket van chemiese middels te hou. Besonderhede van
toelaatbare vlakke vir chemiese residue op grondbone, is
beskikbaar op die Graan SA webblad by
http://www.grainsa.co.za.
Die gids vir goeie landboupraktyke vir die produksie van
grondbone, is beskikbaar in Afrikaans en Engels in beide harde
kopie sowel as op CD. Die gids is ook op die webblad van Graan
SA beskikbaar by
http://www.grainsa.co.za.
Navrae oor die gids kan gerig word aan die Grondboneforum by
posbus 5562, Rivonia, 2128, of e-pos
oliesade@worldonline.co.za,
tel. (011) 234 3400 of faks (011) 234 3402. |