Bothaville, South Africa
September 15, 2005
Mnr. Hennie Venter, Voorsitter van die Grondbonewerkgroep van
Graan SA sê dat kennis
geneem is dat baie boere dit oorweeg om, gegewe die groot
mieliesurplus, grondboonproduksie drasties uit te brei.
Produsente word egter aangeraai om in die komende seisoen slegs
grondbone aan te plant indien 'n kontrak met 'n koper gesluit
is. By gebreke aan 'n kontrak, kan produsente in Maart 2006
vind dat daar nie kopers vir die produk in die kommersiële
marksektor beskikbaar is nie.
Kommer word ook uitgespreek oor die drastiese afskaling van die
kapasiteit van grondboonverwerkingsaanlegte in die afgelope paar
maande en word bereken dat daar slegs kapasiteit in Suid-Afrika
beskikbaar is om ongeveer 100 000 ton grondbone te verwerk.
Produsente word ook daarop gewys dat die Regulasie op
Voedselveiligheid en Higiëne in die nuwe seisoen toegepas sal
word. Hierdie Regulasie vereis dat voedselveiligheid van die
plaas tot op die verbruiker se bord deur goeie praktyke
ondersteun sal word, vir grondbone wat bestem is vir die
uitvoermark. Die oudit van goeie praktyke en terugspoorbaarheid
van veral chemiese residue sal gemoniteer word. Hierdie
vereistes sal waarskynlik deur 'n kontraktuele verhouding tussen
die produsent en die verwerkingsaanleg gereël word.
"Indien produsente wel besluit om grondbone aan te plant, word
aanbeveel dat slegs gesertifiseerde saad gebruik sal word,
aangesien kwaliteit grondbone steeds die drywer vir prys, beide
vir die uitvoer- sowel as vir die binnelandse mark, sal bly",
aldus mnr. Venter. |